1 Chronicles 16
1 Hulle het die ark van God ingeneem en dit neergesit binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Daarna het hulle •brandoffers en •maaltydoffers voor God gebring.
2 Toe Dawid die brandoffer en maaltydoffers klaar gebring het, het hy die volk in die Naam van die Here geseën.
3 Hy het aan elke Israeliet, man en vrou, 'n ronde brood, 'n dadelkoek en 'n rosynekoek uitgedeel.
4 Hy het van die Leviete wat voor die ark van die Here moes diens doen, aangestel om die Here, die God van Israel, te huldig, te dank en te loof.
5 Asaf was aan die hoof, en tweede in rang was Sagaria. Daarna volg Jeïel, Semiramot, Jegiël, Mattitja, Eliab, Benaja, Obed-Edom en Jeïel, met harpe en liere. Asaf het die simbale laat galm,
6 terwyl die priesters, Benaja en Jagasiël, deurentyd met die trompette voor die verbondsark van God was.
7 Op daardie dag, juis toe, het Dawid die eerste keer vir Asaf en sy stamgenote aangestel om die Here soos volg te prys:
8 Prys die Here, roep sy Naam uit; maak onder die volke sy dade bekend!
9 Sing vir Hom, besing Hom; praat met oorgawe oor al sy wonderwerke.
10 Beroem julle in sy •heilige Naam; laat die harte van hulle wat die Here opsoek, bly wees.
11 Soek die Here en sy krag, soek voortdurend sy teenwoordigheid op.
12 Roep die wonders wat Hy gedoen het in herinnering, sy tekens en die oordele van sy mond,
13 nageslag van Israel, sy dienskneg, kinders van Jakob, sy uitverkorenes!
14 Hy is die Here ons God; oor die hele wêreld geld sy oordele.
15 Onthou vir altyd sy verbond, die woord wat Hy beveel het vir duisend geslagte,
16 wat Hy gesluit het met Abraham en met 'n eed beloof het aan Isak.
17 Hy het dit aan Jakob bevestig as 'n vaste reël, aan Israel as 'n ewige verbond,
18 met die woorde: “Aan jou sal Ek die land Kanaän gee as julle afgemete erfdeel.”
19 Toe hulle nog min in getal was, baie min, en •vreemdelinge in die land was,
20 het hulle van een nasie na die ander geswerf, van een koninkryk na 'n ander volk.
21 Hy het geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie. Hy het konings oor hulle tereggewys:
22 “Moenie aan my gesalfdes raak nie; my profete moet julle geen kwaad aandoen nie.”
23 Sing vir die Here, o ganse aarde! Verkondig sy verlossing van dag tot dag!
24 Maak onder die nasies sy majesteit bekend, onder al die volke sy wonderdade.
25 Want groot is die Here en besonder lofwaardig; Hy is ontsagwekkend, meer as alle gode.
26 Ja, al die gode van die volke is niksbeduidend, maar die Here het die hemel gemaak.
27 Luister en glans is voor Hom; krag en blydskap is in sy heiligdom.
28 Gee erkenning aan die Here, familiegroepe van volke! Gee erkenning aan die Here vir sy heerlikheid en krag!
29 Gee erkenning aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam! Bring offers en kom in sy teenwoordigheid! Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid!
30 Bewe vanweë sy teenwoordigheid, o ganse aarde! Ja, die wêreld staan vas, dit wankel nie.
31 Laat die hemel bly wees, en die aarde juig. Mense onder die nasies sê: “Die Here regeer!”
32 Die see en alles daarin moet dit uitbasuin. Laat die veld en alles daarop jubel,
33 dan sal alle bome in die bos van vreugde uitroep voor die Here. Want Hy kom om die aarde te oordeel.
34 Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.
35 Julle moet sê: “Red ons, o God wat ons verlos, en bring ons bymekaar! Ja, red ons van die nasies, sodat ons u •heilige Naam kan prys, sodat ons kan roem op die lof wat U toekom.”
36 Die Here, die God van Israel, moet geprys word, van ewigheid af en vir ewig. Die hele volk moet sê: “•Amen!” en “Loof die Here! ”
37 Dawid het Asaf en sy stamgenote daar voor die verbondsark van die Here laat bly om deurentyd voor die ark diens te doen volgens die vereistes van elke dag.
38 Obed-Edom en sy agt-en-sestig stamgenote, asook Obed-Edom, seun van Jedoetoen, en Gosa was daar as deurwagte.
39 Die priester Sadok en sy medepriesters het hy voor die •tabernakel van die Here op die •offerhoogte wat in Gibeon is, agtergelaat
40 om deurentyd, soggens en saans, vir die Here brandoffers op die brandofferaltaar te bring, volgens alles wat voorgeskryf is in die wet van die Here wat Hy Israel beveel het.
41 Saam met hulle was Heman en Jedoetoen en die res van die uitgesoektes wat by die naam aangewys is om die Here te prys met die woorde: “Vir ewig duur sy troue liefde!”
42 By hulle, by Heman en Jedoetoen, was daar trompette en simbale vir die musikante, en instrumente vir die begeleiding van godsdienstige liedere. Die seuns van Jedoetoen was by die poort.
43 Daarna het die hele volk, elkeen, teruggegaan na sy huis. Dawid het teruggegaan om sy huisgesin te seën.